Hoe Ons Ontmoet Het
Elandré en Lizanne het mekaar vir die eerste keer raakgeloop by ’n eetplek genaamd Whisk in Centurion. Die spesifieke datum? Wel… dis nog oop vir onderhandeling (of bloot verlore in die geselskap daardie aand).
Elandré het saam met ’n paar vriende, reguit van ’n krieketwedstryd af by SuperSport Park, later die aand by Whisk opgedaag. Onder daardie vriende was ook sy ou universiteitsmaat, Heinrich, en natuurlik was Lizanne reeds daar saam met die groep.
Op daardie stadium was Elandré nog in ’n verhouding – so hy’t maar net vinnig gegroet en nie veel meer gesê nie. Maar jong… Lizanne kon eenvoudig nie haar oë van hom af hou nie. Daar was iets aan daardie ou.
Niks het daardie aand verder gebeur nie, maar toe kom die volgende ontmoeting – by Chris-Marie se verjaarsdag. Chris-Marie het vir Heinrich genooi, en vir Lizanne genoem dat Heinrich dalk twee van sy vriende gaan saambring. Lizanne het in haar hart gehoop dat een van hulle dalk Elandré sou wees… en toe is dit wraggies hy wat opdaag.
Daardie aand het Lizanne haar moves probeer gooi – vriendelik, slim, net om hom bietjie beter te leer ken… en dalk net om te kyk of daai vonk in haar kop dalk ook regtig bestaan.
’n Paar kuiergeleenthede later het hulle mekaar weer gesien. En dié keer was dit Elandré wat die eerste tree gegee het – hy’t vir Lizanne gevra of sy nie saam met hom wil dans nie. Een dans het genoeg gesê. Daardie aand het hy uiteindelik vir haar nommer gevra – want hy het geweet: hier broei iets spesiaal.
Maar, soos die lewe wil hê, was dit nie ‘n maklike pad nie. Lizanne was steeds voltyds aan die studeer, en Elandré het pas begin werk. Vir twee jaar het die lewe hulle op verskillende paaie gehou, maar daar was altyd ’n onderstroom… iets wat nie weggaan nie.
En toe, op die tweede herdenking van daardie eerste ontmoeting, gebeur daar iets onverwags: Lizanne het die eerste stap gegee. Sy’t vir Elandré gekontak en hom uitgenooi vir ‘n drankie by haar huis – nog tydens die Covid-era se stil aande en diep gesprekke.
Drie en ’n half jaar later sit hulle hier – verloof, gelukkig, en meer verlief as ooit.
En hierdie keer… is dit net die begin.
Elandre
Ek is Elandré Vlok, maar soos my vriende my ken – Vlokkie – daai ander ou.
Ek is iemand wat op die oog af dalk hard en reguit lyk, maar dié wat my regtig ken, weet daar’s ’n sagte geaardheid agter die logika en die beplanning. Ek gee om vir mense, vir detail, en vir dinge wat reg moet wees.
Ek werk voltyds as ‘n Tegniese Projekbestuurder by Bidvest Protea Coin, waar ek betrokke is by verskeie tegnologiese infrastruktuurprojekte. Ek hou daarvan om goed te laat werk – prakties, tegnies en strategies.
Maar my passie vir kreatiwiteit en ontwerp het daartoe gelei dat ek ook die stigter en eienaar van weDesiign (Pty) Ltd is – ’n digitale kreatiewe agentskap wat fokus op webontwerp, bemarking en alles mooi wat aanlyn leef. Ek glo daarin om funksie, minimalisme en estetika in balans te bring.
Ek’s iemand wat hou van dinge wat werk, mense wat regtig is, ’n goeie brandewyntjie, en musiek wat hard speel op ‘n Vrydagaand. Ek’t ’n liefde vir detail, ’n kop vir oplossings, en ’n hart wat nou behoorlik vol is – want ek gaan binnekort trou met my beste vriendin.
Dis moeilik om in woorde te sit hoe opgewonde en dankbaar ek is vir hierdie nuwe hoofstuk – maar hierdie trou webtuiste is my (en ons) manier om elkeen van julle deel te maak van die storie.
Lizanne
Ek is Lizanne de Wet, amper Vlok, of soos ander my ken “Zaan”! En ek kan skaars glo dat ek hierdie mag skryf – want dit beteken ek gaan binnekort trou met die liefde van my lewe!
Ek is iemand wat altyd geglo het in harde werk, opregte verhoudings en dat dit goed is om sag te wees in ’n wêreld wat soms rof is. Ek het ’n sagte geaardheid en leef baie uit my hart – maar ek hou ook daarvan om my voete op die grond te hou. Ek dink dis hoekom mense sê ek is emosioneel, maar ook standvastig.
Ek is nou in my vierde jaar van my professionele loopbaan. Ek het my eerste drie jaar by Aquatico gewerk, waar ek ongelooflik baie geleer het. Nou het ek die voorreg om by EPL te werk – ’n plek waar ek uiteindelik my graad in BioTegnologie voluit kan uitleef. Dis vir my belangrik om werk te doen wat sin maak en ‘n bydrae lewer, al is dit agter die skerms.
Buite werk is ek iemand wat waarde heg aan my mense – familie, vriende, en natuurlik die man vir wie ek ‘n volmondige ja gaan sê. My pad met Elandré was vir my ‘n bevestiging dat liefde regtig onverwags, vinnig en diep kan gebeur. Van die eerste keer wat ek hom gesien het, het ek geweet daar is iets anders aan hom. En ek was reg.
Ek sien so uit daarna om hierdie nuwe hoofstuk saam met hom te begin – saam met julle almal wat so ‘n belangrike deel van ons storie is.
Sy’t Ja Gese
Maandag, November 11, 2024
’n Paar weke later is die ring klaar. Elandré wys dit eerste vir sy ma, Nilette, en reel toe die volgende dag ’n video-oproep met die de Wet-gesin in Wilderness. Daar vra hy formeel vir hulle seën – en met ’n hart vol blydskap kry hy die groot JA van Lizanne se ouers én haar broer, Stephan.
Toe bly net een groot vraag oor: Waar gaan hy haar vra?
In November 2024 het Elandré, Lizanne en Nilette ’n kort wegbreek beplan na die pragtige Drakensberg. Vir Elandré was dit die perfekte geleentheid – asemrowende uitsigte, vars berglug en net die regte atmosfeer. Die aand van hul aankoms het hy besluit: môre is die dag.
Op ’n helder oggend vat hy en Lizanne ’n staproete teen die berg op. Soos hulle al hoër klim, word die wêreld om hulle stil – net hulle twee, die wind, en die ongelooflike uitsig. Amper bo, stel Elandré voor dat hulle ’n foto neem waar hulle altwee na die berge kyk. Hy stel die kamera op ’n klip, stel die timer, en sê vir Lizanne om om te draai vir die perfekte kiekie…
Net toe sy omdraai, sak hy op een knie agter haar. Met die Drakensberge as getuies, draai Lizanne terug – en daar staan Elandré, met die ring in die hand en ’n glimlag wat alles sê. Toe vra hy die vraag:
“Lizanne de Wet, jy maak my die gelukkigste persoon in die wêreld. Sal jy my die eer doen om my vrou te wees?”
Ons Verlowing
Voordat Elandré enigsins op een knie kon sak, moes daar natuurlik eers ‘n plan wees. En ‘n ring. Maar die belangrikste van alles – hy moes seker wees dat Lizanne die een is… Die regte een. Gelukkig het dit nie lank geneem nie.
Vir maande het Elandré op die mees subtiele maniere probeer uitvind wat Lizanne se droomring sou wees. Tussen die geselsies oor koffie of op ’n rustige aand saam, sou hy vra: “As jy nou moes trou… hoe sou jou ring lyk?” Maar voor hy sy sin klaar kon maak, was Lizanne al besig om haar Instagram oop te maak. En toe… ‘n hele folder! Honderde trouring-idees – van groot na klein, ovaal na rond, vierkantig na driehoekig. Sy wys toe vir Elandré presies watter paar haar gunstelinge is. En, natuurlik, noem sy sommer ook dat sy eendag haar ring graag self wil aanpas, want ‘n trouring is iets wat ‘n mens vir altyd dra – dis nie iets wat jy net kan verander nie.
So begin Elandré se beplanning ernstig vorm aanneem. Hy vat die idees wat Lizanne gedeel het, kombineer dit met sy eie inspirasie, en gaan sit vir ’n twee uur lange ontwerpsessie saam met ‘n ringontwerper, Ettiene, in Pretoria-Oos. Tussen die twee van hulle kom ’n unieke ringontwerp tot stand – geïnspireer deur Lizanne, maar gevorm deur Elandré se hart.